Blog Posts

Alet

 

 

DIE HERSTEL VAN 'ALET,' TOUWSRIVIER SE EIE MINIATUUR-STOOMLOKOMOTIEF:

DIE MERKWAARDIGE RESTOURASIE VAN 'N VERGETE STUK BYKANSE SKROOTMETAAL TOT BLINK GEMEENSKAPSJUWEEL

Vriende,

Die verhaal van 'Alet' - Touwsrivier se Miniatuur-Stoomlokomotief - se merkwaardige restourasie van 'n vergete stuk bykanse skrootmetaal tot blink gemeenskapsjuweel is een van Breedevallei se hoogtepunte van vanjaar.

Hierdie merkwaardige reddingspoging is alles te danke aan die dinamiese Voorsitter van Touwsrivier Toerisme, Christiaan du Plessis en sy toegeweide bestuurspan van Touwsrivier Toerisme, tesame met vrywilligers vanuit die Touwsrivierse gemeenskap.

AGTERGROND

Die verhaal van 'Alet' - Touwsrivier se eie miniatuur-stoomlokomotief - is 'n verhaal wat eie aan Touwsrivier is en wat diep met die gemeenskap verbind is.

Die dorp Touwsrivier is in 1877 gestig, nadat die spoorlyn in daardie jaar die dorp bereik het. In 1977 het Touwsrivier dus sy 100-jarige bestaansjaar gevier. Aangesien die destydse Spoorwee iets besonders vir hierdie besondere mylpaal in die dorp se geskiedenis wou doen, het hulle toe in 1977 besluit om 'n klein miniatuur-stoomlokomotief, genaamd, 'Alet,' te bou wat as attraksie tydens die 100-Jarige Bestaansviering kon dien.

'Alet' is 'n miniatuur-stoomlokomotief, maar is gebou sonder enige trekkrag. Alhoewel sy 'n vuurkas ('firebox') en ketel ('boiler') het, kan sy rook maak as steenkool in haar verbrand word, maar sy het nie enige trekkrag nie en kan dus nie op 'n spoorlyn ry nie. Volgens haar ketelplaat ('boiler plate') was haar ketel laas in 1985 getoets.

Tydens die Touwsrivierse Eeufeesvieringsparade in 1977 is 'Alet' bo-op 'n vragmotor geplaas en tydens 'n vlotparade deur die dorp se strate gery, en daar was toe steenkool in haar 'firebox' gebrand, sodat daar rook by haar skoorsteen kon uitkom. Dit was blykbaar 'n groot besienswaardigheid destyds om dit te sien en mense het van heinde en verre gekom om vir 'Alet' te kom kyk.

'ALET' SE 47-JARIGE VERGETE BESTAAN BY DIE OU TOUWSRIVIER ONTSPANNINGSKLUB

Na afloop van die Touwsrivierse Eeufeesvieringsparade het die Spoorwee toe in 1977 vir 'Alet' by die Spoorwee se Touwsrivierse Ontspanningsklub gaan staanmaak op 'n systoep, waar sy vir die afgelope 47 jaar in wind en weer as 'n anachronsitiese herinnering gestaan en agteruitgaan het. Net mense wie vir Touwsrivier goed ken en jare lank daar gebly het, het van haar bestaan geweet. Haar bestaan was so vergete, dat ekself in 2019 vir die eerste keer van 'Alet' se bestaan te hore gekom het! Nadat die Ou Touwsrivierse Ontspanningsklub vir 'n lang tyd deur onwettige buitelandse besetters beset was, het 'Alet' ook baie skade opgedoen, soos wat sy gevandaliseer was en haar parte vir skrootmetaal afgesteel was. Haar steenkooltenderbak was van hout gemaak, en dit het oor die jare grootliks gedisintegreer.

DRAAIPUNT

'n Draaipunt het egter gekom toe Transnet onlangs daarin kon slaag om die onwettige besetters uit die Ou Touwsrivierse Ontspanningsklub uitgesit te kry. 

Gevolglik het die dinamiese Voorsitter van Touwsrivier Toerisme, Christiaan du Plessis en sy toegewide bestuurspan van Touwsrivier Toerisme, tesame met hul van lede vanuit die Touwsrivierse gemeenskap, besluit dat as hulle nie nou iets gaan doen om vir 'Alet' te red nie, sy doodeenvoudig net stuk-vir-stuk deur booswigte opgesaag gaan word om as skrootmetaal verkoop te word. Gevolglik het hulle vir Transnet se Erfenisversameling gekontak en die bal aan die rol gesit om vir 'Alet' na die historiese Gideon Joubertpark by Janestraat 50, Touwsrivier te skuif.

HISTORIESE GIDEON JOUBERTPARK BY JANESTRAAT 50, TOUWSRIVIER

Die historiese Gideon Joubertpark is die natuurlike tuiste vir 'Alet,' want hier kan sy in die skadu van haar Ma staan, die historiese Klas 23-stoomlokomotief, genaamd 'Touwsrivier,' wat een van nog net twee Klas 23-stoomlokomotiewe is wat in die land behoue gebly het. (Die Klas-23-stoomlokomotief was die groootste van die 4-8-2-Bergstoomlokomotiewe wat deur die destydse Sporwee gebruik is; en in 1938 en 1939, kort voor die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog, was daar 136 van hierdie stoomlokomotiewe van Berliner Maschinenbau en Henschel und Sohn na Suid-Afrika ingevoer).

DIE VERSKUIWINGSPROSES

'Alet' mag nou wel 'n miniatuur-stoomlokomotief wees wat nie 'binnegoed' het nie, maar dit beteken nie dat haar skuifproses nie maklik was nie! Enige stoomlokomotief is swaar - of hulle nie 'n ware stoomlokomotief is, en of hulle 'n miniatuur-stoomlokomotief is! 'Alet' was te groot om as een stuk te skuif, en gevolglik moes sy in stukke opgesaag word, en dan moes die stukke met 'n laaigraaf opgelaai word en dan moes die stukke bo-op 'n vragmotor opgelaai word en na Gideon Joubertpark aangery word, en dan daar weer met 'n laaigraaf afgelaai word en aan mekaar vasgesweis word.

Die skuifproses vanaf die Ou Touwsrivier Ontspanningsklub na die Gideon Joubertpark het vele uitdagings gehad, en omdat die verskillende stukke so swaar is om op te tel, het dit duidelik gewys wie in die oggend hulle pap geeet het en wie nie! Die steenkooltenderbak was van hout gemaak en het grootliks gedisintegreer, terwyl haar kajuitafdakkie so opgeroes het, dat dit met die verskuiwing ineengestort het. Gelukkig het niemand seer gekry nie.

GROEP GEMEENSKAPSHELDE TREE NA VORE

Terwyl al die stukke uitmekaar was, kon daar met die restourasieproses begin word en Touwsrivier Toerisme het hiervoor die hulp van gemeenskapsvrywilligers soos Oom Willie Marais, Clarence Thomas en Jason Prins gekry, waarvan sommiges soos Willie Marais, jarelange stoomtrein-ervaring het. Oom Willie Marais het 'Alet' se neus mooi gebou en ‘n lig geskenk wat mooi vooraan vasgesit kon word. Clarence Thomas het weer 'Alet' se nommerplate laat maak en die outentieke SAS-SAR-letters laat maak wat agter op die steenkoolbaktender vasgeplak kon word. Jason Prins het weer 'n mooi platformpie gebou waarop 'Alet' op ballastklip staangemaak kon word, om te keer dat haar wiele nie roes nie. Christiaan du Pessis het 'n nuwe steenkooltenderwaentjie uit metaal gebou en 'n stel voorwiele vanaf Pietermaritzburg laat kom.

KAN NIE GLO DIT IS DIESELFDE 'ALET' NIE

Vandag lyk 'Alet' so mooi so nuut en kan 'n mens nie glo dat hierdie bykanse stuk skrootmetaal so 'n transformasie kon ondergaan nie. Daar waar sy nou saam met haar Ma - die groot Klas 23-stoomlokomotief genaamd, 'Touwsrivier' - in die Gideon Joubertpark staan, is sy nou 'n groot toeriste-attraksie en 'n groot aardigheid vir kinders wie almal wil kom om die klein miniatuurtreintjie te kom kyk!

DANKBETUIGING AAN GROEP GEMEENSKAPSHELDE

Hierdie besondere inisiatief is alles te dankie aan die dinamiese Voorsitter van Touwsrivier Toerisme, Christiaan du Plessis, en sy span, sowel as gemeenskapsvrywilligers soos Oom Willie Marais, Clarence Thomas en Jason Prins, so as gemeenskap s'e ons almal vir julle dankie. 'n Projek soos hierdie vat visie, administratiewe beplanning, logistieke beplanning, burokratiese rompslomp, deursettingsvermoe, koordinering van individuele pogings en harde werk. Julle ondernemingsgees het nou 'n 'moet sien' ('must see')-besienswaardigheid op die toerprogram van enige toeris bygevoeg wie Breedevallei besoek. Veels geluk aan julle dat julle so mooi as 'n span kon saamwerk om iets so besonders en so mooi en so uniek aan Breedevallei te kon red en vir die nageslag kon laat bewaar. As dit nie vir julle visie en samewerking was nie, sou 'Alet' stukkie-vir-stukkie as skrootmetaal gesteel gewees het.

UITNODIGING

Enigeen - en veral kinders van alle ouderdomme - is welkom om vir 'Alet' te gaan kyk waar sy vandag in die historiese Gideon Joubertpark by Janestraat 50 op Touwsrivier staan.

MEEGAANDE FOTOS

Die meegaande fotos toon 'Alet' se transformasie oor die jare:

FOTO 1: 'Alet' in 1977, as deel van die vlotparade van Touwsrivier se 100-Jarige bestaansviering;

FOTO 2: 'Alet' in 1977, waar sy by die Ou Touwsrivier Ontspanningsklub gemonteer is;

FOTOS 3, 4, 5, 6: 'Alet,' hoe sy vroeer vanjaar nog by die Ou Touwsrivier Ontspanningsklub as bykanse stuk skrootmetaal gestaan het, terwyl sy stukkie vir stukkie opgesteel was;

FOTO 7: 'Alet,' se ketelplaat ('boiler plate') toon dat haar ketel laas in 1985 getoets was;

FOTOS 8, 9, 10, 11: 'Alet' se skuifproses het duidelik getoon wie daardie oggend hulle pap geeet het en wie nie;

FOTO 12: 'Alet,' se moeder, (die Klas 23-stoomlokomotief genaamd, 'Touwsrivier'), saam met wie sy nou verenig is in die Gideon Joubertpark. Hierdie Klas 23-stoomlokomotief is een van nog net 2 wat nog bestaan;

FOTOS 13, 14, 15 EN 16: 'Alet,' na haar restourasieproses en in haar blink nuwe baadjie, waar sy staan en wag dat kinders van alle ouderdomme vir haar kom hello se!

AFSLUITING

Die redding en restourasie van 'Alet,' Touwsrivier se eie historiese stoomlokomotief, deur Christiaan du Plessis en span, Oom Willie Marais, Clarence Thomas en Jason Prins, is 'n verhaal van inwoners wie omgegee het vir hulle gemeenskap en dit wou bewaar wat hulle vir hulle mooi was en opgestaan het en moue opgerol het om die spreekwoordelike wiele te laat rol en dinge te laat gebeur - hulle het nie gewag dat ander dit moet doen nie - hulle het dit self gedoen. Dit is inwoners soos hierdie wat Breedevallei, Suid-Afrika se Sorgstad ('Care Capital') maak.

Christiaan du Plessis, Oom Willie Marais, Clarence Thomas en Jason Prins, ons as gemeenskap salueer julle!

RAADSLID DR DR JULIAN KRITZINGER

BURGEMEESTERSKOMITEELID VIR PLAASLIKE EKONOMIESE ONTWIKKELING, TOERISME, KUNS EN KULTUUR

BREEDEVALLEI MUNISIPALITEIT

 

BEFORE

        

 

 AFTER